Spreuke 22:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Soek eerder na ’n goeie naam as na groot rykdom. Hoë aansien is beter as silwer of goud.

2. Vir mense, ryk en arm, is dit dieselfde: die Here het hulle almal gemaak.

3. Iemand wat verstandig is, sien wanneer die onheil kom en kruip weg. Die onervare mens loop oopoë daarin vas en boet daarvoor.

4. Iemand wat nederig is en respek het vir die Here, kry rykdom, eer en lewe.

5. Op ’n oneerlike mens se pad is daar dorings en lokvalle. Iemand wat omgee vir homself, bly ver daarvan weg.

6. Leer ’n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.

7. Soos rykes oor armes heers, so is die man wat geld leen die slaaf van die man by wie hy leen.

8. ’n Geweldenaar wat onreg saai, sal teëspoed oes. Ook sy verdrukking van ander sal tot ’n einde kom.

9. ’n Vrygewige man wat van sy kos vir armes gee, sal geseën word.

10. Jaag die spotter weg en saam met hom sal rusies padgee; die gestry en beledigings sal tot ’n einde kom.

11. Wie graag opreg wil wees en mooi praat met ander, het selfs die koning as vriend.

12. Die Here hou kennis in stand. Hy keer die woorde van die onbetroubare mens om.

Spreuke 22