Spreuke 16:6-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Liefde en lojaliteit bring versoening vir oortredings. Kwaad word vermy wanneer daar respek isvir die Here.

7. As die Here gelukkig is met die manier waarop iemand lewe, sal Hy selfs sy vyande in vrede met hom laat lewe.

8. Dis beter om arm te wees en regverdig, as om ryk en oneerlik te wees.

9. ’n Mens beplan sy koers, maar die Here bepaal sy bestemming.

10. As die koning praat, is dit met Goddelike gesag. Sy uitsprake mag nooitonregverdig wees nie.

11. Die Here vereis eerlikheid en billikheid in die handel. Hy bepaal die maatstawwe daarvoor.

12. Die koning verafsku misdade. Sy regering berus op regverdigheid.

13. Die koning is tevrede wanneer mense eerlik praat.Hy stel dit op prys as mense die waarheid praat.

14. Die koning se woede is ’n draer van die dood. ’n Wyse mens probeer sy woede afkoel.

15. As die koning glimlag, is daar lewe. Sy goedgesindheid is soos wolke wat lentereëns bring.

16. Om wysheid te bekom,is beter as goud,en insig is beter as silwer.

17. Die regverdige se pad stuur weg van die kwaad. Iemand wat daardie pad volg, beveilig sy lewe.

Spreuke 16