8. Sonde is deur hierdie gebod gestimuleer en het allerlei sondige begeertes in my aan die gang gesit. Sonder die wet sou die sonde nie daardie vermoë gehad het nie.
9. Ek het destyds heel goed gevoel toe ek nog nie verstaan het wat die wet van my verwag nie. Maar toe die betekenis van die gebod tot my deurdring, het die sonde vir my ’n lewende werklikheid geword,
10. en ek self het die doodsvonnis ontvang. Dit het geblyk dat juis die gebod wat veronderstel was om vir my die lewe te bring, vir my die dood beteken.
11. Want die sonde wat deur die gebod aangewakker is, het my verlei en so my doodsvonnis meegebring.
12. Nietemin, die wet op sigself is heilig en sy inhoud is heilig en reg en goed.
13. Hoe is dit dan nou moontlik? Het dit wat goed is, naamlik die wet van Moses, dan vir my die dood gebring? Glad nie! Dis die sónde wat dit gedoen het, met die gevolg dat sy ware aard duidelik geword het. Sonde het dit wat goed is, misbruik om my dood te bewerk. So het die gebod nog soveel duideliker gemaak hoe verskriklik die sonde werklik is.
14. Die wet is dus goed. Dit het ’n diep geestelike karakter. Die probleem lê nie by die wet nie, maar by myself omdat ek aan my sondige natuur gebind is. Ek is ’n slaaf wat aan die sonde verkoop is.
15. Ek verstaan my eie doen en late glad nie. Wat ek graag wil doen, laat ek na, maar wat ek verafsku, juis dit doen ek.
16. As ek doen wat ek nie wil doen nie en my gewete kla my daaroor aan, erken ek self dat die wet goed is.
17. Maar nou is dit nie meer ek wat die verkeerde doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon.
18. Ek weet dat ek – ten minste wat my ou, sondige natuur betref – nie oor die vermoë beskik om die goeie te doen nie. Want die begeerte tot die goeie is daar, maar ek kry dit nie uitgevoer nie.