Romeine 4:2-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Was dit op grond van sy goeie werke dat God hom vrygespreek het? As dit inderdaad so was, sou hy dalk goeie rede gehad het om te spog. Maar vanuit God se oogpunt het hy absoluut niks gehad om oor te spog nie.

3. Die Skrif verklaar mos: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”

4. Wanneer mense ’n werk verrig, word hulle loon nie as ’n guns beskou nie, maar as vergoeding.

5. Die saak staan heeltemal anders met daardie mense wat geen prestasie het waarop hulle kan staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddeloses vryspreek – hulle word vrygespreek deurdat hulle glo.

6. Koning Dawid het hiervan gepraat toe hy beskryf het hoe gelukkig die mens is wat sonder enige wetsprestasies tog deur God vrygespreek word:

7. “Gelukkig is daardie mensewie se oortredings nie gestraf word nieen wie se sondes uitgewis word.

8. Gelukkig is die mensvir wie die Here die sondeglad nie meer toereken nie!”

9. Geld hierdie uitspraak net vir die Jode, of sluit dit ook die nie-Jode in? Wel, wat dan van Abraham? Ons het tog gesê dat hy deur God vrygespreek is deurdat hy glo.

10. Het hierdie vryspraak plaasgevind nadat hy reeds besny was of terwyl hy nog onbesnede was? Die antwoord is dat God hom reeds tevore, toe hy nog onbesnede was, vrygespreek het en dat hy eers daarna besny is!

11. Die seremonie van die besnydenis was ’n teken, ja, ’n plegtige bekragtiging daarvan dat Abraham alreeds geglo het en deur God vrygespreek is – selfs nog voor sy besnydenis. So het Abraham die geestelike voorvader geword van almal wat glo sonder dat hulle die besnydenis ontvang het en só deur God vrygespreek is.

Romeine 4