Rigters 16:18-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Delila het gesien dat hy hierdie keer vir haar sy geheim vertel het. Sy het toe die leiers van die Filistyne laat kom en vir hulle gesê: “Hierdie keer moet julle kom! Hy het my nou sy geheim vertel.” Die leiers het gekom en die geld vir die betaling saamgebring.

19. Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak. Sy het ’n man nadergeroep om Simson se sewe haarlokke af te skeer. Sy het seker gemaak dat hy bedwing sal kan word. Sy krag het verdwyn.

20. Sy roep toe uit: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Hy het uit die slaap wakker geword en by homself gedink: “Ek sal weer uit die ding kom soos al die vorige kere.” Maar hy het nie geweet dat die Here hom verlaat het nie.

21. Die Filistyne het hom vasgebind. Hulle het sy oë uitgesteek. Hulle het hom na Gasa toe gevat en hom met twee koperkettings vasgemaak. In die tronk moes hy meel maal.

22. Maar daar het sy afgeskeerde hare weer begin groei.

23. Die leiers van die Filistyne het saamgekom om in die tempel ’n groot offerfees vir hulle god Dagon te hou. Hulle het vir mekaar gesê: “Ons god het ons vyand Simson in ons hand gegee.”

Rigters 16