Numeri 19:2-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. “Hier is nog ’n opdrag wat die Here bepaal het: Sê vir die Israeliete hulle moet ’n gesonde rooi koei vat wat geen foute het nie. Sy moes ook nog nooit onder ’n juk ingespan gewees het nie.

3. Gee haar vir die priester Eleasar. Hy sal haar buite die kamp vat waar sy voor hom geslag sal word.

4. Eleasar sal dan van die bloed vat en dit met sy vinger sewe keer voor die tabernakel gaan sprinkel.

5. Terwyl hy toekyk, moet die vel, die karkas, die bloed en die binnegoed verbrand word.

6. Hy moet sederhout, ’n hisoptakkie en rooi wol in die vuur gooi waarin die koei verbrand word.

7. “Die priester moet dan sy klere en homself met water was. Daarna kan hy na die kamp toe teruggaan. Die priester is egter onrein tot die aand toe.

8. Die persoon wat die koei verbrand het, moet ook sy klere en homself met water was. Hy is ook onrein tot die aand toe.

9. Iemand wat rein is, moet dan die as van die koei bymekaarmaak en dit buite die kamp op ’n plek gaan uitgooi wat daarvoor eenkant gesit is. Dit sal daar gehou word vir die gemeenskap van Israel om in die water van die reinigingseremonie te gebruik.

10. Die man wat die as bymekaargemaak het, moet ook sy klere was. Hy is ook onrein tot die aand toe. Dit is ’n onveranderbare voorskrif vir sowel die Israeliete as die vreemdelinge wat tydelik by hulle bly.

11. “Iemand wat aan ’n lyk vat, is sewe dae lank onrein.

12. Hy moet homself op die derde en op die sewende dag reinig. As hy dit nie op die derde en sewende dag doen nie, sal hy onrein bly.

13. Iemand wat aan ’n lyk vat en homself nie reinig nie, maak die Here se tabernakel onrein. Hy sal uit die gemeenskap van Israel verwyder word. Omdat daar nie reinigingswater oor hom gesprinkel is nie, sal hy onrein bly.

Numeri 19