Numeri 16:18-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Elkeen het toe ’n vuurpan gevat, vuur daarin gesit, wierook daaroor gestrooi en by Moses en Aäron by die ingang van die tabernakel gaan staan.

19. Korag het die volk teen hulle opgesweep. Hulle het by die ingang van die tabernakel kom staan. Toe het die hele gemeenskap bewus geword van die Here se magtige teenwoordigheid.

20. Die Here het vir Moses gesê:

21. “Staan weg van hierdie mense af dat Ek hulle met een slag kan vernietig!”

22. Moses en Aäron het toe op die grond neergeval. Hulle het gesmeek: “O God, die God wat asem gee vir alles wat lewe. Moet U nou vir die hele gemeenskap kwaad word net oor een mens wat oortree het?”

23. Die Here het vir Moses gesê:

24. “Sê vir die mense dat hulle moet padgee van Korag, Datan en Abiram se tente af.”

25. Moses het toe opgestaan en na Datan en Abiram toe gegaan. Die leiers het agter hom aan getou.

26. Hy het met die mense gepraat en vir hulle gesê: “Staan terug van hierdie slegte mans se tente af! Moet aan niks vat wat aan hulle behoort nie sodat julle nie ook saam vernietig word deur al hulle oortredings nie.”

Numeri 16