10. Die gemeenskap het egter gedreig om hulle met klippe dood te gooi. Die Israeliete het toe bewus geword van die Here se magtige teenwoordigheid by die tabernakel.
11. Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank gaan hierdie volk nog aanhou om My te minag? Hoe lank gaan hulle bly weier om op My te vertrou, selfs al het Ek al die wonders tussen hulle laat gebeur?
12. Ek gaan ’n pessiekte onder hulle laat uitbreek. Ek gaan hulle uitroei. Ek gaan jou egter ’n groot nasie maak wat baie sterker is as hulle!”
13. Moses het toe vir die Here gesê: “U het met u krag hierdie volk uit Egipte weggevat. Die Egiptenaars sal hoor wat U doen.
14. Hulle sal dit vir die inwoners van hierdie land oorvertel. Hulle het alreeds gehoor dat U tussen die mense van hierdie volk bly. Here, hulle weet dat U sigbaar is vir u volk in die wolk wat bo hulle hang. Hulle weet dat U die volk lei met ’n wolkmassa wat bedags voor hulle uitgaan en ’n vuurbondel wat snags voor hulle is.