Matteus 23:5-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. “Alles wat hulle doen, is vir die uiterlike vertoon. Daarvoor dra hulle op hulle arms en voorkoppe ekstra groot gebedsdosies met Skrifverse daarin en hulle maak die tossels aan hulle klere opvallend groot.

6. En hoe verlustig hulle hulle nie in die ereplekke by feesmaaltye en in die sinagoges nie!

7. Hulle geniet dit om spesiaal op straat gegroet te word en om deur die mense as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8. Maar julle moet julleself nooit as ‘rabbi’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leermeester en julle is almal broers en susters.

9. En moenie enige geestelike leier hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want julle het net een Vader: julle Vader wat in die hemel is.

10. En julle moet julleself nie as ‘leier’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leier: die Messias self.

11. Die belangrikste een onder julle moet die een wees wat dien.

12. Dié wat vir hulleself eer soek – God sal hulle verneder. Maar dié wat hulle geringheid voor God besef – God sal hulle hoog vereer.”

13. “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle blokkeer die koninkryk van God vir die mense. Julle gaan self nie daar in nie en boonop verhinder julle dié wat wel probeer ingaan.

Matteus 23