Matteus 22:14-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Daar is inderdaad baie meer genooides as uitverkorenes.”

15. Die Fariseërs het toe vergadering gaan hou om te bespreek hoe hulle Jesus op ’n verkeerde opmerking sou kon uitvang om as aanklag teen Hom te gebruik.

16. Hulle stuur toe ’n paar van hulle volgelinge saam met ondersteuners van Herodes wat vir Jesus vra: “Leermeester, ons weet hoe eerlik u is. Sonder om doekies om te draai leer u die mense wat God van ons verwag. U ontsien niemand nie, want u laat u nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie.

17. Sê dan vir ons wat is u standpunt: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?”

18. Jesus het hulle egter deurgekyk. “Julle skynheiliges,” sê Hy, “julle probeer My uitvang!

19. Wys vir My die Romeinse belastingmunt.” Hulle bring toe vir Hom die muntstuk. “Wie se kop en titel is hierop afgedruk?” vra Hy vir hulle.

20. Hulle antwoord: “Die keiser s’n.”

21. “Wel,” sê Hy toe, “gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee ook aan God alles wat Hóm toekom.”

22. Jesus se antwoord het hulle stomverbaas gelaat, en hulle het die aftog geblaas.

23. Daardie selfde dag kom die Sadduseërs na Hom toe. Hulle is ’n groep Jode wat die opstanding uit die dood ontken. Hulle vra Hom toe die volgende:

24. “Leermeester, Moses het gesê: ‘As ’n man kinderloos sterf, moet sy broer met die weduwee trou en so vir hom ’n nageslag verwek.’

25. Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste een het getrou en omdat hy kinderloos gesterf het, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat.

26. Dieselfde ding het gebeur met al die broers tot die sewende een toe.

27. Laaste van almal is die vrou ook dood.

28. “Sê nou vir ons – wie van hierdie sewe se vrou sal sy by die opstanding wees? Hulle was tog almal met haar getroud.”

Matteus 22