40. Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees.
41. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met vandag se mense opstaan en teen hulle getuig. Hulle het tog op grond van Jona se prediking tot inkeer gekom. Iemand baie belangriker as Jona is nou hier by julle, en tog kom julle nie tot inkeer nie.
42. Die koningin van Skeba sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van ’n baie ver land gekom om na die wysheid van Salomo te kom luister. Iemand baie belangriker as Salomo is nou hier by julle; tog weier julle om na Hom te luister!
43. “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens gaan, swerf hy deur dor plekke op soek na ’n rusplek, maar hy kry dit nie.
44. Dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my vorige blyplek.’ Wanneer hy gaan, kry hy dit onbewoon, uitgevee en netjies aan die kant.
45. Daarna gaan neem hy sewe ander geeste, slegter as hyself, saam met hom en trek in daardie persoon in. Uiteindelik sal dit met daardie mens baie slegter gaan as aan die begin. Dieselfde sal gebeur met die slegte mense van vandag.”
46. Jesus was nog besig om met die skare te praat, toe staan sy ma en sy broers buitekant. Hulle wou met Hom praat.
47. Iemand sê toe vir Jesus: “U ma en broers staan hier buite en hulle wil met U praat.”