Markus 10:42-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

42. Jesus roep hulle toe bymekaar en sê vir hulle: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die sogenaamde maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle.

43. Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort almal te dien.

44. En wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees.

45. Selfs Ek, die Seun van die Mens, het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.”

46. So het hulle Jerigo bereik. Later, toe Jesus en sy dissipels vergesel van ’n groot skare Jerigo verlaat, het ’n blinde bedelaar met die naam Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit.

47. Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

48. Baie mense het hom toe aangespreek en gesê hy moet stilbly, maar hy het net nog harder aanhou roep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

49. Jesus het toe gaan staan en gesê: “Roep hom.” Hulle roep toe die blinde en sê vir hom: “Wees bly! Staan op, Jesus roep jou.”

50. Hy het sy bo-kleed eenkant gegooi, opgespring en na Jesus toe gekom.

51. “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” het Jesus gevra. Hy het gesê: “O Leermeester, dat ek kan sien!”

52. Toe het Jesus vir hom gesê: “Gaan maar. Omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword.” Dadelik kon hy sien en hy het op die pad agter Jesus aan gegaan.

Markus 10