13. Skielik was daar saam met die engel ’n groot menigte ander engele, ’n leërskare uit die hemel, wat God prys:
14. “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir almal in wie Hy ’n welbehae het.”
15. Toe die engele teruggegaan het na die hemel, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan Betlehem toe om te sien watter wonderlike ding gebeur het, soos die Here dit aan ons bekendgemaak het.”
16. Hulle het toe na die dorp toe gehardloop en vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê.
17. Toe het die skaapwagters vir almal gaan vertel wat gebeur het, en wat die engel vir hulle oor die Kindjie gesê het.
18. Almal wat die skaapwagters se verhaal gehoor het, was verbaas,
19. maar Maria het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink.
20. Die skaapwagters het teruggegaan na die veld en hulle kuddes terwyl hulle God loof en prys oor wat die engele vir hulle vertel het, en omdat hulle die Kind gesien het, net soos die engel gesê het.
21. Agt dae later, toe die tyd aangebreek het om die kindjie te besny, is Hy Jesus genoem. Dit is die naam wat die engel nog voordat Hy verwek is aan Hom gegee het.