Levitikus 7:4-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. die twee niere met die vet rondom hulle naby die kruis, en die punt van die lewer, wat saam met die niere verwyder moet word.

5. Die priester sal al sy dele op die altaar verbrand as ’n vuuroffer vir die Here.

6. Alle manlike lede van ’n priester se familie mag van die vleis eet en dit moet op ’n gewyde plek geëet word, want dit is ’n baie heilige offer.

7. “In die geval van beide die sonde-offer en die skuldoffer behoort die vleis van die offerdier aan die priester in beheer van die versoeningseremonie.

8. In geval van die brandoffer behoort die vel van die offerdier ook aan die priester.

9. Enige graanoffer wat in ’n oond gebak is of in ’n pan gaargemaak is of op ’n plaat voorberei is, behoort aan die priester wat die offer aanbied.

10. Alle ander graanoffers, met of sonder olyfolie, moet verdeel word onder al die priesters en hulle seuns.”

11. “Hier volg die instruksies vir die verskillende soorte maaltydoffers wat vir die Here gebring mag word.

12. As jy ’n maaltydoffer as ’n dankoffer bring, moet die gebruiklike offerdiere saam met verskillende soorte brood sonder enige suurdeeg gebring word. Dit moet in olyfolie gedoop word. Dit kan ringbrood, of dun broodjies of roosterkoeke wees.

13. By hierdie maaltydoffer wat as danksegging gebring word, moet daar ook brode wees wat met suurdeeg gemaak is.

14. Een van elke soort brood moet as ’n gawe vir die Here gegee word. Hierdie brood sal dan aan die priester behoort wat die altaar met die bloed van die offerdier besprinkel het.

15. Die vleis van die offerdier moet op dieselfde dag as wat dit geslag is, geëet word. Niks mag oorbly tot die volgende oggend toe nie.

16. “As jy egter ’n offer bring om ’n gelofte na te kom, of as jy ’n vrywillige offer bring, moet die vleis op dieselfde dag geëet word. Vleis wat oorbly, mag wel ook op die volgende dag geëet word.

17. Enigiets wat oorbly tot op die derde dag moet heeltemal verbrand word.

18. As enige vleis van die maaltydoffer op die derde dag geëet word, sal die Here dit nie aanvaar nie. Dit sal geen waarde as ’n offer hê nie en dit sal ook nie in die guns tel van die een wat die offer gebring het nie. Op daardie stadium sal die vleis al sleg wees en as jy dit eet, sal jy verantwoording moet doen vir jou sonde.

19. “Vleis wat aan enigiets wat onrein is, geraak het, mag nie geëet word nie, dit moet heeltemal verbrand word. Vleis wat geëet mag word, mag net geëet word deur iemand wat rein is.

Levitikus 7