Levitikus 27:22-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. “As jy ’n stuk grond aan die Here wy wat nie deel is van jou familiegrond nie,

23. moet die priester die waarde daarvan bepaal op grond van die aantal jare tot die volgende Jubeljaar. Jy moet dan die waarde van die grond nog daardie dag betaal. Dit word die eiendom van die Here.

24. In die Jubeljaar sal die grond dan teruggaan na die oorspronklike eienaar toe van wie jy dit gekoop het.

25. “Al die waardebepalings moet gedoen word volgens die standaardgewig van die heiligdom.

26. “Julle mag nie die eersteling van ’n koei of skaap aan die Here wy nie omdat die eersteling al klaar aan die Here behoort.

27. As dit egter die eersteling van ’n onrein dier is, mag julle dit loskoop deur aan die priester die waarde daarvan te betaal, plus twintig persent. As julle dit nie loskoop nie, mag die priester dit verkoop aan iemand anders teen sy vasgestelde waarde.

28. Enigiets wat spesiaal afgesonder is aan die Here, of dit nou ’n persoon, ’n dier of ’n stuk grond is, mag nooit verkoop of losgekoop word nie. Enigiets wat op dié manier vir die Here afgesonder is, behoort aan Hom.

29. ’n Persoon wat spesiaal afgesonder is vir die Here om geban te word, mag nie losgekoop word nie. So ’n persoon moet doodgemaak word.

30. “’n Tiende van die opbrengs van die land, of dit graan of vrugte is, behoort aan die Here en moet vir Hom as heilig afgesonder word.

31. As jy die Here se tiende van die graan of vrugte wil loskoop, moet jy die waarde daarvan betaal, plus twintig persent.

32. Elke tiende dier van jou beeste en skape behoort aan die Here.

33. Daar mag nie vir die tiende dier onderskeid gemaak word tussen goeie of slegte diere nie. Hulle mag ook nie uitgeruil word nie. As hulle wel omgeruil word, sal albei diere as die Here se eiendom beskou word en kan hulle nie losgekoop word nie.”

34. Dit is die bevele wat die Here vir Moses op die Sinaiberg vir die Israeliete gegee het.

Levitikus 27