Levitikus 26:9-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. “Ek sal julle my guns bewys, Ek sal julle baie laat word en Ek sal my verbond met julle nakom.

10. Julle sal so ’n surplus oesopbrengste hê dat julle van die vorige jaar se oes sal moet ontslae raak om plek te maak vir die nuwe oes.

11. Ek sal by julle woon en Ek sal My nie vir julle skaam nie.

12. Ek sal by julle wees, Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees.

13. “Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipte gebring het sodat julle nie langer meer slawe hoef te wees nie. Ek het die juk van slawerny van julle nekke afgehaal sodat julle vry kan wees en kop omhoog kan loop.”

14. “As julle egter nie na My luister of my gebooie gehoorsaam nie,

15. en as julle my verbond verbreek deur my reëls te verwerp en my regulasies te minag,

16. sal Ek die volgende met julle laat gebeur: Ek sal paniek onder julle saai. Julle sal aan siektes en koors ly, siektes wat julle blind sal maak en julle lewe laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs graan plant, want julle vyande sal dit opeet.

17. Ek sal my rug vir julle draai en al julle vyande sal julle verslaan. Hulle sal oor julle heers en julle sal weghardloop al is daar niemand wat julle agtervolg nie!

Levitikus 26