Levitikus 26:31-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

31. Ek sal julle stede verlate maak en julle aanbiddingsplekke verwoes. Julle offers sal vir My glad nie aangenaam wees nie.

32. Ek sal self julle land so verwoes dat die vyand wat dit in besit neem geskok sal staan oor die verwoesting daarvan.

33. Ek sal julle verstrooi onder die nasies en julle met my eie wapens aanval. Julle land sal verlate wees en julle stede sal blote ruïnes wees.

34. Wanneer die land so verlate lê gedurende die jare van julle ballingskap in die land van julle vyandskap, sal dit sy verlore Sabbatsjare inhaal. Dan sal die land uiteindelik kan rus en sy Sabbatte geniet.

35. Wanneer die land in puin lê, sal dit die rus neem wat julle dit nooit elke sewe jaar gegee het toe julle nog daar gewoon het nie.

36. “Vir dié van julle wat oorleef, sal Ek so bang maak in die land van julle vyande dat julle in voortdurende vrees sal lewe. Selfs die geluid van ’n blaar in die wind sal julle op die vlug laat slaan. Julle sal hardloop asof ’n soldaat agter julle aan is met ’n swaard en julle sal val al agtervolg niemand julle nie.

37. Selfs al is daar niemand wat julle jaag nie, sal julle oor mekaar val terwyl julle vlug, asof julle in ’n oorlog wegvlug van julle vyand. Julle sal geen krag hê teen julle vyande nie.

38. Julle sal tussen vreemde nasies tot sterwe kom en die land van julle vyande sal julle vernietig.

39. Dié wat oorbly, sal in die land van julle vyande wegkwyn as gevolg van hulle sonde en die sonde van hulle voorouers.

40. “Maar my volk sal hulle sondes en die sondes van hulle voorouers bely. Hulle het My verraai en het my vyand geword.

41. Daarom het Ek ook hulle vyand geword en hulle in die land van hulle vyande gebring. Uiteindelik sal hulle ongehoorsame harte nederig word en sal hulle betaal vir hulle sondes.

42. Dan sal Ek my verbond met Jakob, Isak en Abraham onthou. Ek sal ook die land onthou.

43. Die land moet egter eers sy jare van Sabbatsrus geniet soos wat dit nou verlate lê. Die volk sal hulle volle straf vir hulle sondes moet kry. Hulle het immers my reëls verwerp en my regulasies geminag.

Levitikus 26