4. Behalwe die Sabbatdag, het die Here ook feeste ingestel, heilige byeenkomste wat op spesifieke tye gedurende die jaar gehou moet word.”
5. “Die Paasfees van die Here begin teen skemer op die veertiende dag van die eerste maand.
6. Die dag na die Paasfees begin die Fees van die Ongesuurde Brood. Die fees vir die Here hou vir sewe dae lank aan en gedurende dié tyd mag julle net brood eet wat gemaak is sonder suurdeeg.
7. Op die eerste dag van die fees moet die hele volk ophou werk en vir ’n heilige byeenkoms bymekaarkom.
8. Op elk van die volgende sewe dae moet die volk ’n vuuroffer vir die Here bring. Op die sewende dag moet die volk weer ophou werk om ’n heilige byeenkoms te hou.”
9. Toe het die Here vir Moses beveel
10. om die volgende instruksies vir die Israeliete te gee: “Wanneer julle in die land bly wat Ek aan julle gee, en julle samel die eerste oes in, bring vir die priester die eerste gerf van die graanoes.
11. Die priester sal dit op die dag ná die Sabbat in die teenwoordigheid van die Here oplig sodat dit ter wille van julle aanvaar kan word.
12. Dieselfde dag moet julle ’n jaaroud skaapram sonder enige liggaamsgebrek as ’n brandoffer vir die Here bring.
13. Dit moet saam met ’n graanoffer gebring word. Dit sal bestaan uit drie kilogram meel gemeng met olyfolie. Dit is ’n vuuroffer vir die Here en baie aangenaam vir Hom. Saam met die offer moet julle ook een liter wyn as ’n drankoffer offer.
14. Op dié dag mag julle nie brood of geroosterde of rou graan eet voordat julle eers die offer vir julle God gebring het nie. Dit is ’n permanente reëling vir julle en moet nagekom word waar julle ook al woon.”
15. “Vanaf die dag ná die Sabbat, die dag waarop die gerf are opgelig is as ’n offer, moet julle sewe weke aftel.
16. Hou aan tel tot die dag ná die sewende Sabbat, dit wil sê, 50 dae later, en bring dan ’n offer van graan wat pas geoes is vir die Here.