2. Die Here het vir Moses gesê: “Waarsku jou broer Aäron om nie sommer wanneer hy wil by die Allerheiligste plek agter die voorhangsel in te gaan nie. Die straf hiervoor is die dood. Die deksel van die ark wat die plek van versoening is, is daar en Ek is daar in ’n wolk bo die deksel van die ark.
3. “Wanneer Aäron die heiligdom ingaan, moet hy hierdie instruksies volledig nakom. Hy moet eers ’n jong bul as ’n sonde-offer en ’n ram as brandoffer bring.
4. Nadat hy homself van kop tot toon gewas het, moet hy sy linnekleed bo-oor die ander klere teen sy lyf aantrek. Hy moet die linnegordel om sy middel bind en ’n linnetulband op sy kop sit. Dit is sy heilige klere.
5. Die volk Israel moet dan twee bokramme as ’n sonde-offer en ’n ram as ’n brandoffer vir hom bring.
6. “Aäron sal dan die bul bring as ’n sonde-offer met die oog op versoening vir homself en sy huis.
7. Dan moet hy die twee bokramme vir die Here na die ingang van die tent van ontmoeting bring.
8. Hy moet die heilige lot werp om te bepaal watter bok vir die Here geoffer gaan word en watter een die sondebok gaan wees.
9. Aäron sal die bok wat as ’n sonde-offer geoffer moet word, vir die Here bring.
10. Die bok wat die sondebok moet wees, moet bly leef. Wanneer die bok die woestyn in gestuur word, sal dit versoening bring vir die volk.
11. “Dan sal Aäron die jong bul as ’n sonde-offer vir homself en sy huis bring. Nadat hy die bul vir die sonde-offer geslag het,
12. moet hy ’n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar wat in die teenwoordigheid van die Here staan. Dan moet hy twee hande vol welriekende wierook vat en met die vuurpan en wierook agter die voorhangsel ingaan.
13. Daar in die teenwoordigheid van die Here moet hy die wierook op die gloeiende kole neersit sodat ’n wolk van wierook oor die deksel van die ark kan opstyg. Die deksel van die ark is die plek van versoening en dit rus op die ark van die verbond. As hy hierdie instruksies nakom, sal hy nie sterf nie.
14. Dan moet hy sy vinger in die bloed van die bul druk en dit voor die versoeningsdeksel sprinkel en daarna sewe keer teen die voorkant van die ark.
15. “Dan moet Aäron die bok as sonde-offer vir die volk slag en die bloed agter die voorhangsel inbring. Daar moet hy die bloed op die versoendeksel en teen die voorkant van die ark sprinkel, net soos hy met die bloed van die bul gemaak het.
16. Op dié manier sal hy versoening bring vir die Allerheiligste plek, en sal hy ook dieselfde doen vir die tent van ontmoeting as gevolg van die verontreinigende sonde en rebellie van die Israeliete.