14. Die priester sal dan van die bloed van die skuldoffer neem en dit aan die persoon se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer.
15. “Die priester sal van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi.
16. Hy sal sy regtervinger in die olie druk en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die Here sprinkel.
17. Die priester sal dan van die olie in sy linkerhand aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die gesonde persoon smeer, bo-oor die bloed van die skuldoffer.
18. Die olie wat in die priester se hand oorbly, sal hy dan oor die kop van die gesonde persoon uitgooi. Op dié manier sal die priester versoening bring in die teenwoordigheid van die Here vir die persoon wat gereinig word.
19. “Die priester moet dan die sonde-offer bring en weer die versoeningseremonie herhaal vir die persoon wat gesond geword het van die velsiekte. Daarna sal die priester die hele brandoffer slag
20. en dit op die altaar saam met die graanoffer offer. Op dié manier sal die priester versoening bewerk vir die persoon wat gereinig is en sal die gesonde persoon rein wees.
21. “Enigiemand wat nie twee lammers kan bekostig nie, moet een rammetjie as skuldoffer bring saam met twee liter keurgraad meel gemeng met olyfolie as ’n graanoffer en 300 milliliter olyfolie. Die skuldoffer sal dan gebring word deur dit op te lig en so versoening te bring vir die persoon wat gereinig is.