Levitikus 10:9-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. “Jy en jou seuns mag nooit wyn of enige ander alkoholiese drank drink voordat julle in die tent van ontmoeting ingaan nie. As julle dit doen, sal julle sterf. Hierdie is ’n permanente reëling vir jou en moet ook deur toekomstige geslagte nagekom word.

10. Jy is die een wat moet onderskei tussen dit wat heilig en onheilig is, tussen dit wat rein of onrein is.

11. Jy moet ook al die reëls wat die Here deur Moses aan die Israeliete gegee het, vir hulle leer.”

12. Moses het vir Aäron en sy twee oorblywende seuns, Eleasar en Itamar, gesê: “Neem van die graanoffer wat oor is nadat die hand vol vir die Here gebring is met ’n vuuroffer. Sorg dat daar nie suurdeeg in is nie en eet dit daar langs die altaar, want dit is baie heilig.

13. Dit moet in ’n heilige plek geëet word, want dit is vir julle en julle nageslag gegee as julle regmatige deel van die vuuroffers aan die Here. Dit is die bevele wat aan my gegee is.

14. Maar die borsstuk en die boud wat vir die Here opgelig is, mag op enige plek wat rein is, geëet word. Dit is vir jou en jou seuns en dogters gegee as julle gereelde deel van die maaltydoffers wat die volk Israel vir die Here bring.

15. Die boud en die bors wat opgelig is, moet saam met die vet van die vuuroffer opgelig word vir die Here. Dit sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort, net soos die Here beveel het.”

16. Toe Moses navraag doen om te weet wat met die sonde-offerbok gebeur het, het hy ontdek dat dit verbrand is. Hy het baie kwaad geword vir die twee oorblywende seuns van Aäron, Eleasar en Itamar.

17. “Waarom het julle nie die sonde-offer in die heilige gebied geëet nie?” wou hy weet. “Dit is immers ’n heilige offer! Dit is bedoel om die skuld van die gemeenskap weg te neem en om versoening vir die volk voor die Here te bewerk.

18. Omdat die bloed van die offerdier nie in die heiligdom ingeneem is nie, moes julle die vleis in die heilige gebied geëet het soos ek julle beveel het.”

Levitikus 10