Levitikus 10:14-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Maar die borsstuk en die boud wat vir die Here opgelig is, mag op enige plek wat rein is, geëet word. Dit is vir jou en jou seuns en dogters gegee as julle gereelde deel van die maaltydoffers wat die volk Israel vir die Here bring.

15. Die boud en die bors wat opgelig is, moet saam met die vet van die vuuroffer opgelig word vir die Here. Dit sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort, net soos die Here beveel het.”

16. Toe Moses navraag doen om te weet wat met die sonde-offerbok gebeur het, het hy ontdek dat dit verbrand is. Hy het baie kwaad geword vir die twee oorblywende seuns van Aäron, Eleasar en Itamar.

17. “Waarom het julle nie die sonde-offer in die heilige gebied geëet nie?” wou hy weet. “Dit is immers ’n heilige offer! Dit is bedoel om die skuld van die gemeenskap weg te neem en om versoening vir die volk voor die Here te bewerk.

18. Omdat die bloed van die offerdier nie in die heiligdom ingeneem is nie, moes julle die vleis in die heilige gebied geëet het soos ek julle beveel het.”

19. Aäron het toe namens sy seuns vir Moses geantwoord: “Vandag het my seuns beide hulle sonde-offer en brandoffer vir die Here gebring,” het hy gesê. “Hierdie soort ding het ook al met my gebeur. Sou die Here dit goedgekeur het as ek die een was wat vandag die sonde-offer geëet het?”

20. Toe Moses dit hoor, was hy tevrede.

Levitikus 10