50. Maar Jesus sê vir hom: “Gaan terug, jou seun lewe.” Die man het Jesus op sy woord geneem en dadelik vertrek.
51. Sommer nog terwyl hy op pad was, het die slawe hom tegemoetgegaan en gesê dat sy seun leef.
52. Hy vra hulle toe uit na die uur waarop sy seun begin beter word het. En hulle antwoord hom: “Gister, teen eenuur die middag, het die koors hom verlaat.”
53. Die pa het toe besef dat dit die presiese uur was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” Hy en sy hele huishouding het toe begin glo.
54. Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy uit Judea in Galilea aangekom het.