4. Nikodemus vra toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n bejaarde is? Hy kan tog nie vir ’n tweede keer in sy ma se skoot gaan en gebore word nie?”
5. Jesus het geantwoord: “Ek verseker jou, as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy so nimmer as te nooit in die koninkryk van God ingaan nie.
6. Wat uit ’n menslike liggaam gebore is, is menslik, en wat uit die Gees gebore is, is gees.
7. Moenie verwonderd wees dat Ek vir jou gesê het julle moet van bo gebore word nie.
8. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy suising, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie. Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”
9. Nikodemus reageer toe en vra Hom: “Hoe is dit moontlik dat hierdie dinge gebeur?”
10. Jesus antwoord hom: “Jy is die leermeester van Israel en jy is nie vertroud met hierdie dinge nie?
11. Ek verseker jou, ons praat waaroor ons kennis het, en ons getuig oor wat ons gesien het, en ten spyte daarvan aanvaar julle tog nie ons getuienis nie.
12. As Ek julle oor die alledaagse dinge ingelig het, en julle My nie glo nie, hoe sal julle ooit glo as Ek julle van die hemelse dinge vertel?
13. Niemand het nog na die hemel toe opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, en dit is Ek, die Seun van die Mens.
14. Net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, só moet die Seun van die Mens verhoog word
15. sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê.
16. “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17. God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.
18. “Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.
19. Dít is die beslissende vonnis: die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was boos.
20. Elkeen wat doen wat sleg is, haat die lig en kom nie na die lig toe nie sodat sy dade nie bekend word nie.
21. Elkeen wat egter die waarheid beoefen, kom na die lig toe sodat dit sigbaar word dat sy dade vanuit ’n noue verhouding met God gedoen is.”