Johannes 20:5-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke daar lê, maar hy het nie ingegaan nie.

6. Simon Petrus het ná hom ook daar aangekom en by die graf ingegaan. Hy sien toe ook die linnedoeke daar lê,

7. én die kopdoek wat om Jesus se kop was. Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol.

8. Daarna het die ander dissipel wat eerste by die graf aangekom het, ook ingegaan, gesien, en geglo.

9. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

10. Daarna het die dissipels weer teruggegaan huis toe.

11. Maria het buite die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk en in die graf in gekyk.

12. Sy sien toe twee engele met wit klere aan wat sit op dieselfde plek waar die liggaam van Jesus gelê het, een aan die kopkant en een aan die voetekant.

13. Hulle vra haar: “Vrou, waarom huil jy?”Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggeneem en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”

14. Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Jesus daar sien staan, maar sy het nie besef dat dit Jesus was nie.

15. Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?”Sy het gemeen dat dit die tuinwerker is, en het vir Hom gesê: “Meneer, as ú Hom weggedra het, sê asseblief vir my waar u Hom neergelê het en ek sal Hom gaan haal.”

16. Jesus sê vir haar: “Maria!”Sy draai om en sê vir Hom in Aramees: “Rabboeni!” Dit beteken ‘Leermeester’.

Johannes 20