Johannes 18:6-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. En toe Jesus vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle almal padgegee en op die grond neergeval.

7. Jesus het sy vraag aan hulle herhaal: “Wie soek julle eintlik?”“Jesus van Nasaret,” was hulle antwoord.

8. Jesus se reaksie was: “Ek het dan vir julle gesê dat dit Ek is. As julle Mý dan soek, laat hierdie mense wat saam met My is, weggaan.”

9. Sodoende het die woord wat Hy vroeër uitgespreek het, waar geword: “Uit die mense wat U aan My toevertrou het, het niemand verlore gegaan nie.”

10. Simon Petrus het ’n swaard by hom gedra. Hy trek toe sy swaard uit die skede, slaan daarmee na die slaaf van die hoofpriester, en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus.

11. Jesus sê toe dadelik vir Petrus: “Sit die swaard terug in sy skede. Sal Ek dan nie die beker drink wat die Vader aan My gegee het nie?”

12. Toe het die afdeling soldate en die bevelvoerder en die wagte van die Joodse owerhede Jesus gearresteer en Hom geboei.

13. Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas wat gedurende daardie jaar die hoofpriester was.

14. Dit was Kajafas wat die Jode met die raad bedien het dat dit voordeliger is dat een man vir die volk sterf.

15. Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie ander dissipel was bevriend met die hoofpriester en het saam met Jesus die hoofpriester se binnehof ingegaan.

16. Petrus het egter buite by die hek bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat bevriend was met die hoofpriester, uitgegaan, met die meisie wat diens doen by die deur gepraat en Petrus ingebring.

17. Die meisie sê toe vir Petrus: “Is jy nie tog ook een van die dissipels van hierdie man nie?”“Ek is nie!” antwoord Petrus.

Johannes 18