Johannes 18:12-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Toe het die afdeling soldate en die bevelvoerder en die wagte van die Joodse owerhede Jesus gearresteer en Hom geboei.

13. Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas wat gedurende daardie jaar die hoofpriester was.

14. Dit was Kajafas wat die Jode met die raad bedien het dat dit voordeliger is dat een man vir die volk sterf.

15. Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie ander dissipel was bevriend met die hoofpriester en het saam met Jesus die hoofpriester se binnehof ingegaan.

16. Petrus het egter buite by die hek bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat bevriend was met die hoofpriester, uitgegaan, met die meisie wat diens doen by die deur gepraat en Petrus ingebring.

17. Die meisie sê toe vir Petrus: “Is jy nie tog ook een van die dissipels van hierdie man nie?”“Ek is nie!” antwoord Petrus.

18. Die slawe en die wagte het hulle rondom ’n vuur staan en warm maak, omdat dit koud was. Petrus het saam met hulle hom daar staan en warm maak.

19. Die hoofpriester het Jesus uitgevra oor sy dissipels en oor sy onderrig aan die mense.

20. Jesus het hom geantwoord: “Ek het tot nou toe openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die sinagoge en in die tempel onderrig gegee, waar al die Jode saamgekom het, en Ek het niks in die geheim gesê nie.

Johannes 18