Johannes 1:23-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Sy reaksie was:“Ek is ’n stem wat roep in die woestyn:‘Maak die pad van die Herereguit.’”Só het die profeet Jesaja mos reeds gesê.

24. Dié wat gestuur is, het uit die geledere van die Fariseërs gekom.

25. Hulle het toe verder by hom navraag gedoen: “Waarom doop jy dan as jy nie die Messias of Elia of die profeet is nie?”

26. Johannes se reaksie was: “Ek doop met water, maar hier tussen julle staan daar Iemand wat julle nie nou ken nie.

27. Dit is Hy wat ná my kom. Ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.”

28. Hierdie gebeure het afgespeel in Betanië, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.

29. Die volgende dag sien Johannes dat Jesus na hom toe aangestap kom. Hy sê toe: “Kyk, dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

30. Dit is Hý van wie ek gesê het: ‘Ná my kom Iemand wat voor my reeds bestaan het. Hy is baie belangriker as ek.’

31. Ek was self ook nie daarvan bewus dat dit Hy is nie. Daarom het ek gekom, en doop ek met water om Hom aan Israel voor te stel.”

32. Johannes het ook nog verder getuig: “Ek het duidelik gesien dat die Gees soos ’n duif uit die hemel neerkom en op Hom gaan sit.

Johannes 1