Joël 3:10-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Maak swaarde van julle ploegimplemente en spiese van julle snoeiskêre. Selfs die swakkeling moet sê: ‘Ek is ’n dapper soldaat!’

11. Al julle nasies van die omringende omgewings, kom gou! Kom bymekaar in die Josafatlaagte.”Here, bring u soldate af daarheen!

12. “Die nasies moet wapens opneem en na die Josafatlaagte toe optrek. Daar sal Ek oor al die nasies van die omgewing oordeel.

13. Steek die sekel in, want die oes is ryp. Kom trap, want die wynpers is vol. Die wynvate loop oor van al die onreg van hierdie mense.”

14. Derduisende mense wag in die laagte in afwagting vir die uitspraak. Dit is hier waar die Dag van die Here binnekort sal aanbreek.

15. Die son en maan sal verdonker. Die sterre sal nie meer skyn nie.

16. Die Here sal brul uit Sion, uit Jerusalem sal Hy bulder. Die hemel en die aarde sal begin skud. Maar vir die mense van Israel is die Here ’n skuilplek en ’n veilige vesting.

17. “Julle sal dan weet dat Ek, die Here julle God, op Sion, my heilige berg, woon. Jerusalem sal altyd ’n heiligdom wees. Geen vreemdelinge sal meer daar deurtrek nie.

18. “In dié tyd sal soet wyn van die berge afdrup, melk sal teen die heuwels afvloei. Die droë spruite van Juda sal vol water wees. ’n Fontein sal in die tempel van die Here ontspring en die vallei van akasias natlei.

19. Egipte en Edom het die mense van Juda aangeval en onskuldige mense doodgemaak. As gevolg hiervan sal Egipte ’n verlate ruïne word en Edom ’n onbewoonbare woestyn.

20. “Maar Juda sal vir altyd bly voortbestaan. Jerusalem sal vir geslag na geslag daar wees.

21. Die oortredings van my volk wat Ek nog nie vergewe het nie, sal Ek vergewe. Ek, die Here, sal Jerusalem my blyplek maak.”

Joël 3