Joël 2:11-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Die Here roep hard uit terwyl Hy hulle lei. Hulle is sy magtige leër en gehoorsaam sy bevele. Die Dag van die Here is iets angswekkends, iets verskrikliks. Wie kan dit oorleef?

12. Maar nou sê die Here: “Draai met volle oorgawe terug na My toe! Vas, huil en treur!

13. Moenie julle klere skeur omdat julle hartseer is nie, skeur julle harte!” Draai terug na die Here julle God toe, want Hy is genadig en vol meegevoel. Hy word nie maklik kwaad nie. Hy is baie liefdevol en wil julle nie graag straf nie.

14. Wie weet, miskien besluit Hy anders en is Hy julle genadig. Dalk gee Hy vir julle voorspoed in plaas van hierdie verskriklike oordeel. Miskien maak Hy dit vir julle moontlik dat julle weer soos voorheen graan en wyn vir die Here julle God kan offer!

15. Blaas op die trompet in Jerusalem! Kondig ’n tyd van vas aan. Roep die gemeente op om saam te kom.

16. Bring die volk byeen en wy die vergadering toe aan die Here. Bring die leiers, die kinders en selfs die babas bymekaar. Laat die bruidegom uit sy kamer kom en die bruid uit haar bruidskamer.

17. Die priesters wat in diens is van die Here moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil. Hulle moet bid: “Here, spaar u volk! Hulle behoort aan U. Moenie toelaat dat ander met hulle die spot dryf nie. Moenie toelaat dat nasies slagspreuke oor hulle maak nie. Waarom moet die volke onder mekaar sê: ‘Waar is die God van Israel?’”

18. Dan sal die Here wys dat Hy omgee vir sy land en Hy sal sy volk jammer kry.

19. Hy sal hulle antwoord en sê: “Kyk, Ek stuur vir julle koring, wyn en olyfolie. Dit sal aan julle behoeftes voldoen. Julle sal nie langer ’n voorwerp van spot onder die nasies wees nie.

20. Ek sal hierdie leërs uit die noorde verwyder en hulle ver weg stuur. Ek sal hulle verdryf na ’n droë en onherbergsame land toe. Dié op die voorhoede sal in die Dooie See beland, en dié op die agterhoede in die Middellandse See. Die stank van hulle lyke sal oor die land versprei.” Die Here het inderdaad groot dinge gedoen!

21. Julle moenie bang wees nie, my volk! Wees bly en verheug julle, want die Here het groot dinge gedoen!

22. Moenie bang wees nie, diere van die veld! Binnekort sal die weiding groen wees. Die bome sal weer vol vrugte wees. Die vyebome en wingerde sal weer volop vrugte dra.

Joël 2