Jesaja 10:9-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Ons sal Kalne net soos Karkemis verwoes. Hamat sal voor ons val soos Arpad. En ons sal Samaria vernietig net soos ons Damaskus vernietig het.

10. Ja, ons het baie koninkryke verwoes wie se gode veel sterker is as Jerusalem en Samaria s’n.

11. As ons Samaria en haar gode vernietig het, sal ons Jerusalem ook verwoes!”

12. Nadat die Here die koning van Assirië gebruik het om sy doel in Jerusalem te bereik, sal Hy teen die koning van Assirië draai en hom straf, want hy is trots en arrogant.

13. Hy spog: “Deur my eie krag en slimmigheid het ek hierdie oorloë gewen. Deur my eie krag het ek baie lande gevange geneem, hulle konings doodgemaak en hulle skatte weggedra.

14. Omdat ek groot is, het ek hulle rykdomme geplunder soos eiers in ’n nes geplunder word. Ek het koninkryke bymekaargemaak soos ’n boer eiers bymekaarmaak. Niemand kan ’n vlerk teen my oplig of sy mond oopmaak om te probeer protesteer nie!”

15. Kan die byl grootpraat dat hy sterker is as die een wat hom gebruik? Of is ’n saag groter as die een wat saag? Kan ’n sweep slaan sonder dat ’n hand dit beweeg? Kan ’n kierie op sy eie loop?

Jesaja 10