25. Moab se mag is vernietig. Sy mag is gebreek,” sê die Here.
26. “Maak Moab dronk, want hulle is arrogant teenoor My, die Here. Laat Moab in hulle braaksel rol sodat ander hulle sal spot.
27. Moab, het jy nie met Israel die spot gedryf nie? Het jy dan nie Israel verag soos iemand wat tussen diewe betrap is nie?
28. Burgers van Moab, vlug uit julle dorpe! Gaan woon in rotsskeure soos duiwe wat hulle neste maakin die grotte.
29. “Ons het gehoor van Moab se trots en gespog. Hulle was hoogmoedig, arrogant, vermetel en hooghartig.
30. Ek weet van Moab se verwaandheid,” sê die Here. “Maar al hierdie grootpratery loop op niks uit nie, dit is vals.
31. Daarom huil Ek oor Moab. Ek treur oor die mense van Kir-Geres.
32. Ek treur meer oor jou as oor Jaser,wingerd van Sibma. Jou wingerdranke het vroeër tot by die Dooie See gestrek,tot by Jaser. Maar nou het die onderdrukkers julle kaalgestroop. Hulle het op julle somervrugte en druiwe toegesak.