Jeremia 41:9-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Koning Asa het Mispa destyds versterk om homself teen koning Baesa van Israel te beskerm. Hy het toe ’n groot put gegrawe om water op te vang. Ismael seun van Netanja het al die lyke van die mense wat hy by Gedalja vermoor het, in hierdie put gegooi. Die put was vol lyke.

10. Ismael het ook die res van die mense in Mispa gevang. Onder hulle was die koning se dogters. Nebusaradan, hoof van die koninklike lyfwag, het al hierdie mense onder die sorg van Gedalja in Mispa gelaat. Ismael het hulle saam met hom gevat en in die rigting van die Ammoniete begin trek.

11. Maar Joganan seun van Kareag en die groep soldate wat saam met hom was, het gehoor van die gruwels wat Ismael gedoen het.

12. Hulle het toe al die mans saam met hulle geneem om teen Ismael te veg. Hulle het hom by die groot dam naby Gibeon aangetref.

13. Toe die mense wat Ismael gevang het Joganan en sy offisiere sien, was hulle baie bly.

14. Al die mense wat Ismael in Mispa gevange geneem het, het ontsnap en na Joganan toe oorgeloop.

Jeremia 41