Jeremia 39:8-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Die Babiloniërs het toe die paleis en die mense se huise afgebrand. Hulle het ook die stadsmure afgebreek.

9. Nebusaradan was die bevelvoerder van die koning van Babel se persoonlike wagte. Hy het die mense wat in die stad oorgebly het, die res van die mense van Juda en dié wat reeds na die Babiloniërs oorgeloop het, na Babel toe weggevoer.

10. Maar Nebusaradan het van die armste mense in Juda agtergelaat. Hy het by dié geleentheid vir hulle wingerde en landerye gegee.

11. Koning Nebukadnesar van Babel het aan Nebusaradan, bevelvoerder van die koninklike lyfwag, opdragte oor Jeremia gegee. Hy het gesê:

12. “Kyk goed na Jeremia en sorg dat hy niks oorkom nie. As hy iets vra, gee dit vir hom.”

13. Nebusaradan, bevelvoerder van die koninklike lyfwag, het die senior offisier Nebusasban en Nergal-Sareser, die koning se adviseur, en ook nog ander offisiere gestuur.

14. Hulle moes Jeremia uit die tronk haal. Hulle het hom in die sorg van Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, geplaas. Hy het Jeremia na sy huis toe gevat. So kon Jeremia weer tussen sy mense bly.

15. Terwyl Jeremia nog in die tronk was, het die Here vir hom ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

Jeremia 39