Jeremia 34:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. In ’n stadium was koning Nebukadnesar van Babel met sy leër besig om teen Jerusalem en die dorpe van Juda te veg. Saam met sy leër het ook die leërs van ander nasies geveg wat onder sy gesag was. Gedurende hierdie tyd het die Here vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2. “Gaan na koning Sedekia van Juda en sê vir hom: ‘Die Here, die God van Israel sê: Ek gaan die stad aan die koning van Babel oorgee. Hy sal dit afbrand.

3. Jy sal nie wegkom nie, hulle sal jou vang en in die mag van Nebukadnesar oorlewer. Jy sal persoonlik voor die koning van Babel verskyn en met hom praat voordat jy na Babel toe sal gaan.’

4. “Maar luister na die belofte wat die Here maak, Sedekia, koning van Juda. Hy sê: ‘Jy sal nie in die oorlog sterf nie.

5. Nee, jy sal in vrede sterf. Jou mense sal wierook brand by jou begrafnis, net soos hulle met konings voor jou gedoen het. Hulle sal oor jou huil en sê: Ag, ons koning is dood! Die Here sê Hy sal sorg dat dit gebeur.’”

6. Die profeet Jeremia het hierdie boodskap in Jerusalem aan koning Sedekia van Juda oorgedra.

Jeremia 34