Jeremia 31:23-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “As Ek hulle terugbring uit hulle ballingskap, sal die mense in Juda en in hulle dorpe weer sê: ‘Die Here seën jou, tuiste van geregtigheid, heilige berg!’

24. Al die mense in die dorpe en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly.

25. Want Ek sal nuwe krag gee aan dié wat moeg is en die swakkes versterk.”

26. Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.

27. Die Here sê: “Die tyd kom dat Ek die mense van Israel en Juda sal vermeerder. Ek sal ook die getalle van die diere vermeerder.

28. In die verlede het Ek hulle ontwortel en hulle afgebreek. Ek het hulle skade aangedoen en vernietig. Verder het Ek ook slegte dinge op hulle pad gebring. Maar in die toekoms sal Ek hulle weer opbou en hulle plant,” sê die Here.

29. “In daardie tyd sal mense nie langer sê nie: “‘Die ouers het suur druiwe geëet sodat die kinders se tande stomp geword het.’

30. “Mense sal weens hulle eie sonde doodgaan. Elkeen wat die suur druiwe eet, se tande sal stomp raak.”

31. Die Here sê: “Die tyd kom dat Ek weer ’n nuwe verbond met Israel en Juda sal sluit.

32. Hierdie verbond sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gesluit het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte uitgelei. Hulle het my verbond verbreek, al het Ek hulle liefgehad soos ’n man sy vrou liefhet,” sê die Here.

Jeremia 31