Jeremia 31:20-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Die Here sê: “Is Israel dan nie meer my dierbare seun nie? Is hy nie my lieflingkind nie? Selfs al moes Ek hom straf, is hy nie uit my gedagtes nie. Omdat Ek oor hom besorg is, sal Ek My oor hom ontferm.

21. “Plant vir jou rigtingwysers. Stel vir jou bakens vas. Neem kennis van die pad waarlangs jy gegaan het. Kom terug, jong vrou Israel! Kom terug na jou eie dorpe.

22. Hoe lank sal jy nog hink op twee gedagtes,ontroue dogter? Die Here gaan iets nuuts op aarde laat gebeur: ’n Vrou sal ’n man beskerm.”

23. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “As Ek hulle terugbring uit hulle ballingskap, sal die mense in Juda en in hulle dorpe weer sê: ‘Die Here seën jou, tuiste van geregtigheid, heilige berg!’

24. Al die mense in die dorpe en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly.

25. Want Ek sal nuwe krag gee aan dié wat moeg is en die swakkes versterk.”

26. Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.

27. Die Here sê: “Die tyd kom dat Ek die mense van Israel en Juda sal vermeerder. Ek sal ook die getalle van die diere vermeerder.

28. In die verlede het Ek hulle ontwortel en hulle afgebreek. Ek het hulle skade aangedoen en vernietig. Verder het Ek ook slegte dinge op hulle pad gebring. Maar in die toekoms sal Ek hulle weer opbou en hulle plant,” sê die Here.

29. “In daardie tyd sal mense nie langer sê nie: “‘Die ouers het suur druiwe geëet sodat die kinders se tande stomp geword het.’

30. “Mense sal weens hulle eie sonde doodgaan. Elkeen wat die suur druiwe eet, se tande sal stomp raak.”

31. Die Here sê: “Die tyd kom dat Ek weer ’n nuwe verbond met Israel en Juda sal sluit.

32. Hierdie verbond sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gesluit het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte uitgelei. Hulle het my verbond verbreek, al het Ek hulle liefgehad soos ’n man sy vrou liefhet,” sê die Here.

33. “Maar so sal die nuwe verbond wees wat Ek na hierdie tyd met Israel sal sluit,” sê die Here. “Ek sal my wette in hulle gedagtes plant en op hulle harte skryf. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.

Jeremia 31