Jeremia 29:10-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. So sê die Here: “Julle sal 70 jaar lank in Babel wees. Maar as die tyd verstryk het, sal Ek al die goeie beloftes begin vervul. Ek sal julle na julle land toe terugbring.

11. Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.

12. Julle sal na My roep en bid, en Ek sal na julle luister.

13. As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind.

14. Julle sal My toeganklik vind,” sê die Here. “Ek sal julle uit gevangenskap laat terugkeer. Ek sal julle versamel tussen al die nasies waar julle nou is en uit al die plekke waarheen Ek julle verban het,” sê die Here. “Ek sal julle weer terugbring na die plekke waarvandaan Ek julle in ballingskap laat gaan het.”

15. Julle mag sê dat die Here vir julle profete in Babel gegee het,

16. maar hoor wat sê die Here oor die koning wat op die troon van koning Dawid sit. Hoor ook wat Hy sê oor al die mense wat in hierdie stad oorbly, wat hulle nie saam met julle na Babel weggevoer het nie.

17. Die Here, die Almagtige, sê: “Ek sal oorlog, hongersnood en epidemies op hulle pad bring. Ek maak hulle soos vye wat te vrot is om te eet.

18. Ek agtervolg hulle met oorloë, hongersnood en epidemies en Ek verstrooi hulle oor die hele aarde. Oral waar hulle kom, sal mense skrik oor wat met hulle gebeur het. Mense sal hulle afstootlik vind en hulle verag of hulle spot en grappe oor hulle maak.

19. Dit sal gebeur omdat hulle hulle nie steur aan wat Ek sê nie. Ek het soveel keer my dienaars – die profete – na hulle gestuur, maar verniet,” sê die Here.

Jeremia 29