Jeremia 17:21-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Hy sê: Luister sodat julle kan bly lewe! Hou op om op die Sabbatdag handel te dryf in Jerusalem se poorte.

22. Moenie op die Sabbatdag werk nie. Maak van die Sabbat ’n heilige dag soos Ek julle voorouers beveel het om te doen.

23. Maar hulle was ongehoorsaam en wou nie luister nie. Hulle was hardkoppig en wou nie die voorskrifte navolg nie.’

24. “Maar die Here sê: ‘As julle My gehoorsaam en nie aanhou met julle handeldrywery op die Sabbatdag nie en ook nie op dié dag werk nie, maar dit ter wille van My heilig hou,

25. sal daar ’n toekoms vir hierdie volk wees. Daar sal altyd ’n koning uit die familielyn van Dawid in Jerusalem regeer. Die konings en amptenare sal by die poorte van Jerusalem ingaan. Hulle sal op strydwaens en perde ry en tussen die mense van Juda wees. “‘Daar sal ook altyd mense in Jerusalem woon.

26. En mense sal uit die dorpe van Juda en die omgewing van Jerusalem, uit die gebied van Benjamin, van die heuwels in die weste van die land, van die berge en die woestyngebied in die suide na Jerusalem toe kom. Hulle sal brandoffers, graanoffers, wierook en dankoffers na die tempel van die Here bring.

27. “‘Julle moet na My luister en die Sabbatdag heilig hou. As julle dit nie doen nie en aanhou om op die Sabbatdag julle handelsware rond te dra deur die poorte van Jerusalem soos op ander dae, sal Ek daardie poorte aan die brand steek. Die vuur sal van die poorte af na die paleise versprei. Niemand sal in staat wees om die vuur te blus nie.’”

Jeremia 17