Jakobus 2:5-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Luister, my geliefde broers en susters! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof nie? Is dit nie húlle wat die erfgename is van die koninkryk wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?

6. En tog beledig julle die arm persoon! Is dit nie juis die rykes wat julle onderdruk nie, en is dit nie húlle wat julle voor die hof sleep nie?

7. Is dit nie juis hulle wat Christus, wie se Naam julle as Christene dra, belaster nie?

8. Julle doen inderdaad die regte ding as julle God se koninklike wet uitleef soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

9. Maar as julle teen mense diskrimineer, doen julle sonde, want juis hierdie wet brandmerk julle dan as oortreders.

10. Julle weet mos: iemand wat al die gebooie onderhou behalwe één, is net so skuldig as iemand wat ál die gebooie oortree.

11. Want dieselfde God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dan nou aan jou huweliksmaat getrou is, maar tog moord pleeg, het jy mos al die gebooie oortree.

12. Sorg dus dat jou woorde en dade wys dat jy iemand is wat weet dat jy beoordeel gaan word deur die wet wat vrymaak, die wet van liefde.

13. Wie sonder ontferming optree, sal sonder ontferming geoordeel word. God se ontferming is sterker as sy oordeel.

14. My broers en susters, wat help dit as ’n mens sê jy het geloof, maar jou lewe wys dit nie? Só ’n geloof kan jou nie verlos nie.

15. Sê nou jy sien ’n Christenbroer of -suster wat kos en klere nodig het,

16. en jy sê: “Ek hoop dit gaan goed met jou; sorg dat jy warm aantrek en genoeg eet,” maar jy gee nie vir daardie persoon kos of klere nie. Wat help dit dan?

Jakobus 2