Hebreërs 9:17-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. ’n Testament word tog eers geldig by afsterwe; solank die testateur nog lewe, het dit geen regsgeldigheid nie.

18. Dit verduidelik ook waarom die eerste verbond nie sonder bloed ingestel is nie.

19. Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk voorgehou het, het hy die bloed van kalwers en bokke met water verdun en sowel die wetboek as die hele volk met behulp van rooi wol en hisoptakkies besprinkel.

20. Daarop het hy verklaar: “Hierdie bloed bekragtig die verbond wat God met julle gesluit het.”

21. En op dieselfde manier het hy bloed gesprinkel op die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens.

22. Ons kan inderdaad sê dat volgens die wet feitlik alles met bloed gereinig word. Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis van sonde plaas nie.

23. Dit is waarom die aardse verbondstent en alles daarin – wat maar net afbeeldings van die dinge in die hemel is – met die bloed van diere gereinig moes word. Maar die hemelse dinge self het ’n baie beter soort offerande as hierdie nodig gehad.

24. Christus het immers tot in die hemel self ingegaan om nou as ons voorspraak voor God te verskyn. Hy het nie in die aardse heiligdom ingegaan nie – dit is tog maar net ’n namaaksel van die ware een.

Hebreërs 9