Hebreërs 4:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. God se belofte dat ons sy rus kan binnegaan, staan nog steeds. Daarom moet ons oppas dat dit nie dalk blyk dat een van julle langs die pad agtergebly het nie.

2. Want hierdie blye boodskap van ’n plek van rus het ons ook ontvang, net soos hulle. Dit het hulle egter niks gebaat nie omdat hulle die boodskap wat hulle gehoor het, nie geglo het nie.

3. Want net as ons glo, kan ons die rus binnegaan. Ten opsigte van hulle wat nie geglo het nie, het God egter gesê:“Daarom het Ek in my toornmet ’n eed soos volg verklaar:‘Hulle sal nooit my land van rusbinnegaan nie.’”Dit is ten spyte van die feit dat God se rusplek alreeds gereed staan van die skepping van die wêreld af.

4. Ons weet dit is so, want die Skrif sê êrens van die sewende dag: “En God het op die sewende dag gerus van alles wat Hy gemaak het.”

5. In die ander gedeelte sê Hy weer: “Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.”

6. God se plek van rus is dus beskikbaar, maar dié wat destyds die goeie tyding ontvang het, kon as gevolg van hulle ongeloof nie daar ingaan nie.

7. Gevolglik het God weer ’n dag bepaal om sy rus binne te kan gaan. Daardie dag is vandag. God het dit aansienlik later deur Dawid aangekondig, naamlik:“Vandag wanneer julle sy stem hoor,moet julle nie julle harte verhard nie.”

8. Hierdie nuwe rusplek was nie die land Kanaän waarheen Josua die Israeliete gelei het nie. Anders sou God nie later van ’n ander plek van rus gepraat het nie.

Hebreërs 4