9. “Hierdie seuns van Jakob was jaloers op hulle broer Josef, en hulle het hom verkoop om ’n slaaf in Egipte te wees. Maar God was by hom
10. en het hom uit al sy swaarkry gered. God het gemaak dat Farao, die koning van Egipte, van hom hou. God het ook besondere wysheid aan Josef gegee sodat Farao hom as onderkoning oor Egipte en as hoof van sy hele huishouding aangestel het.
11. “Toe het daar hongersnood in die hele Egipte en ook in Kanaän gekom. Ons voorouers het baie swaar gehad, want hulle kos het opgeraak.
12. “Toe Jakob hoor dat daar in Egipte koring is, het hy sy seuns gestuur om daarvan te gaan koop.
13. Op hulle tweede besoek het Josef sy ware identiteit aan sy broers bekendgemaak, en hulle aan Farao voorgestel.
14. Josef het sy pa, Jakob, en sy hele familie laat haal, altesaam 75 mense.
15. So is Jakob Egipte toe. Hy is daar dood, en ook al sy seuns.
16. Hulle is na Sigem toe gebring en begrawe in die grafgrot wat Abraham daar met geld by die seuns van Hemor gekoop het.