29. Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en as uitlander in die land Midian gaan woon. Dáár het hy die pa geword van twee seuns.
30. “’n Engel het 40 jaar later in die woestyn by Sinaiberg in die vlam van ’n brandende doringbos aan Moses verskyn.
31. Moses het dit gesien en gewonder wat aangaan. Toe hy nadergaan om dit te bekyk, kom die stem van die Here:
32. ‘Ek is die God van jou voorvaders – die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses was só bang dat hy gebewe het; hy het dit nie gewaag om te kyk nie.
33. “En die Here het vir hom gesê: ‘Trek jou sandale uit, want jy staan op gewyde grond.
34. Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek inderdaad gesien. Ek het hulle hulpgeroep gehoor. Hier is Ek nou om hulle te red. Kom, Ek stuur jou nou Egipte toe.’
35. Só, deur die engel wat in die brandende doringbos aan hom verskyn het, het God juis hóm as leier en redder na die Israeliete toe gestuur, dieselfde Moses vir wie die Israeliete verwerp het en toegesnou het: ‘Wie het jou ons leier en regter gemaak?’
36. So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Dit het gepaardgegaan met baie wonders en tekens wat hy oor die verloop van 40 jaar in Egipte, die Rooisee en in die woestyn gedoen het.
37. “Hierdie selfde Moses het vir die volk Israel gesê: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle ’n Profeet soos ek laat voortkom.’
38. Dit is dieselfde Moses wat, toe die volk as gemeente daar in die woestyn was, as tussenganger opgetree het tussen ons voorouers en die engel wat op Sinaiberg met hom gepraat het. Hy het lewende woorde ontvang om aan ons oor te dra.
39. “Ons voorouers het hom egter geïgnoreer, en hulle wou teruggaan Egipte toe.
40. Toe het hulle vir Aäron gesê: ‘Maak vir ons gode wat ons kan lei, want hierdie Moses wat ons uit Egipte uitgelei het – ons weet nie wat met hom gebeur het nie.’