6. Daar het die offisier ’n Aleksandrynse skip Italië toe gekry, en ons aan boord laat gaan.
7. Ons het ’n klompie dae lank maar stadig kon vorder en met moeite naby Knidus gekom. Toe die wind te erg teen ons geraak het, het ons onder Kreta verbygevaar, verby Salmone.
8. Ons het toe met moeite langs Kreta op gevaar en uiteindelik ’n plek met die naam Mooi Hawens bereik, naby die stad Lasea.
9. Ons het taamlik baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik vir skeepvaart geword, want die winter het begin aanbreek. Paulus waarsku hulle toe:
10. “Manne, ek sien dat ons vaart gevaarlik gaan wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook aan ons lewens.”
11. Die Romeinse offisier het egter meer waarde geheg aan die opinie van die skeepskaptein en die skeepseienaar as aan Paulus se woorde.
12. Die hawe was nie gerieflik om daar te oorwinter nie, en die meeste van die bemanning wou liewer daarvandaan wegvaar en Feniks probeer bereik om dáár te oorwinter. Feniks was ’n veilige hawe van Kreta omdat dit net na die suidwes- en noordweskant na die see toe oop was.
13. ’n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die bemanning het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Hulle het anker gelig en al langs die kus van Kreta gevaar.
14. Maar dit was nie lank nie toe slaan daar ’n stormwind bekend as die Noordooster van die land af toe.
15. Die skip is diepsee toe gedryf. Omdat dit onmoontlik was om die skip windop te hou, het ons ophou probeer, en ons is deur die wind voortgedryf.
16. Ons het onder ’n eilandjie met die naam Kauda verbygevaar en kon amper nie die reddingsbootjie van die skip (wat altyd op sleeptou was) onder beheer kry nie.