1. Agrippa rig hom toe tot Paulus: “Jy het geleentheid om jou saak te stel.”Paulus het met sy hand beduie en sy verdediging begin:
2. “Ek ag myself gelukkig, koning Agrippa, dat ek my vandag juis voor u kan verdedig teen al die beskuldigings waarvan ek deur die Jode aangekla word,
3. veral omdat u soveel ondervinding het van al die Joodse gebruike en kwessies. Luister daarom asseblief geduldig na my!
4. “Al die Jode ken my lewenspad van jongs af. Van die begin af het ek my onder my volk in Jerusalem bevind.
5. Hulle weet dus al lankal, as hulle bereid is om daaroor te getuig, dat ek my lewe ingerig het ooreenkomstig die strengste party van ons godsdiens, naamlik die Fariseërparty.
6. En nou staan ek tereg oor my hoop op die belofte aan ons vaders, ’n belofte wat deur God self gegee is.
7. Dit is juis hierdie belofte wat ons volk se twaalf stamme hoop om te verkry, wat maak dat hulle God dag en nag met volle inspanning dien. En nou is dit oor hierdie hoop, U Majesteit, dat ek deur die Jode aangekla word!
8. Waarom is dit vir u almal so onmoontlik om te glo dat God dooies opwek?
9. “Ek self het gedink dat daar ’n verpligting op my lê om alles in my vermoë te doen teen die Naam van Jesus van Nasaret.
10. En dis presies wat ek in Jerusalem gedoen het. Met ’n mandaat van die priesterhoofde het ék baie van die gelowiges in tronke gestop, en wanneer daar oor hulle besluit moes word, het ek daarvoor gestem dat hulle permanent uit die weg geruim moes word.
11. Dikwels het ek hulle oral in die sinagoges lyfstraf laat kry om hulle te dwing om Jesus te vloek. Ek het só teen hulle tekere gegaan dat ek hulle selfs in buitelandse stede vervolg het.
12. Op ’n keer was ek hieroor op reis na Damaskus, met ’n mandaat en in opdrag van die priesterhoofde.
13. Dit was teen die middag, U Majesteit, toe ’n lig helderder as die son van die hemel af op my en my reisgenote geskyn het.
14. Ons het almal neergeval, en ek het ’n stem in Aramees vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jouself net seer deur jou teen My te verset.’
15. “‘Wie is U, Meneer?’ vra ek toe.“En die Here antwoord: ‘Ek is Jesus, dié Een wat jý vervolg.
16. Staan op! Ek het juis hiervoor aan jou verskyn om jou as my dienskneg en getuie aan te stel. Jy moet vertel hoedat jy My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien.
17. Ek sal jou teen jou volk beskerm en teen die nie-Joodse nasies na wie toe Ek jou met volle mandaat stuur.