1. Nadat ons van die Efese-ouderlinge afskeid geneem het, het ons reguit na die eiland Kos gevaar. Die volgende dag is ons na Rodos en daarvandaan na Patara.
2. Toe het ons ’n skip gekry na Fenisië.
3. Ons het die eiland Siprus in sig gekry en is Sirië toe terwyl ons Siprus aan ons linkerkant verbygevaar het. In Tirus het ons afgeklim, want die skip moes sy vrag daar aflaai.
4. Ons het die gelowiges daar opgesoek en sewe dae gebly. Deur die Gees gedring het hulle vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie.
5. Ná ’n week moes ons vertrek en verder reis. Die hele gemeente, vroue en kinders ingesluit, is saam met ons strand toe, buitekant die stad. Daar het ons gekniel en gebid
6. en mekaar gegroet. Ons het toe aan boord gegaan, en hulle is terug huis toe.
7. Ons het van Tirus af die seereis voortgesit na Ptolemaïs. Daar het ons die gelowiges gegroet en ’n dag by hulle gebly.
8. Die volgende dag het ons vertrek en in Sesarea aangekom. Ons het by die evangelis Filippus, een van die sewe, tuisgegaan.
9. Hy het vier ongetroude dogters gehad met die gawe om te profeteer.
10. Ons was reeds ’n hele paar dae daar toe ’n profeet met die naam Agabus van Judea af daar aankom.
11. Toe hy ons kom opsoek, het hy Paulus se belt gevat en sy eie voete en hande daarmee vasgebind. Toe sê hy: “Só sê die Heilige Gees: ‘Die man wie se belt dit is hierdie – die Jode in Jerusalem sal hom net so vasbind en hom in die hande van nie-Jode uitlewer.’”
12. Toe ons dit hoor, het ons en die plaaslike gelowiges Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie.