Handelinge 10:29-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. Daarom het ek sonder beswaar gekom toe ek laat haal is. Ek vra dan nou waarom julle my laat haal het.”

30. Kornelius antwoord: “Vier dae gelede was ek in my huis besig om te bid, so teen drie-uur die middag. Skielik staan daar toe ’n man met blink klere voor my.

31. Hy sê vir my: ‘Kornelius, jou gebed is verhoor en God het jou bydraes vir die armes nie vergeet nie!

32. Stuur mense Joppe toe en laat vir Simon met die noemnaam Petrus daar haal. Hy is ’n gas in die huis van Simon, ’n leerlooier wat naby die see woon.’

33. So het ek dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Hier is ons nou almal voor God om te hoor watter boodskap die Here aan u gegee het.”

34. Toe antwoord Petrus: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie sekere mense bo ander voortrek nie.

35. In enige volk neem Hy dié mense aan wat vir Hom ontsag het en doen wat reg is.

36. Julle weet tog dat God aan die volk Israel die Goeie Nuus gestuur het dat daar vrede met Hom is deur Jesus Christus, wat Here oor almal is.

37. Julle weet ook self wat dwarsdeur Judea gebeur het; dit het van Galilea af begin ná Johannes die Doper begin preek het.

38. Julle weet ook hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Jesus het toe rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat onder die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

Handelinge 10