11. Op die sewentiende dag van die tweede maand, tydens Noag se seshonderdste jaar, het die onderaardse waters oopgebars. Die reën het ook in strome begin neerstort
12. vir 40 dae en nagte aanmekaar.
13. Op daardie selfde dag het Noag en sy vrou, saam met sy seuns, Sem, Gam en Jafet, asook hulle vroue, aan boord gegaan.
14. Saam met hulle op die ark was daar mak diere, wilde diere, klein kruipende diere, voëls en vlieënde insekte van alle soorte.
15. Van alles wat leef, het twee-twee saam met Noag op die ark gegaan.
16. Dit was mannetjies en wyfies soos God beveel het. Toe het die Here die deur van die ark agter hulle toegesluit.
17. Dit het 40 dae lank gereën en soos die waters vermeerder het, het dit die ark hoog bokant die grond opgelig.
18. Die water het al meer geword en al hoër gestyg en die ark het daarop begin dryf.
19. Die water het selfs so hoog gestyg dat die hoogste berge op die aarde onder water was.
20. Die water het tot byna sewe meter bokant die hoogste berg gestyg.
21. Alles wat op die aarde lewe, het vergaan – die voëls, mak diere, wilde diere, die klein kruipende diere en al die mense.
22. Alles wat asemhaal op die droë grond het doodgegaan.
23. Elke lewende wese op die aarde is uitgewis – mense, groot en klein diere en voëls. Hulle is almal dood. Net Noag en hulle wat saam met hom in die ark was, het oorleef.
24. Die aarde was 150 dae lank onder water.