Genesis 44:13-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Toe hulle dit sien, skeur hulle hulle klere in radeloosheid. Hulle laai weer hulle donkies en draai terug na die stad toe.

14. Josef was nog tuis toe Juda en sy broers daar aankom en op die grond voor hom neerval.

15. “Wat het julle aangevang?” vra Josef. “Het julle nie geweet dat ’n persoon soos ek sou weet wie dit gesteel het nie?”

16. Juda sê toe: “Ai, Meneer, wat kan ons tog vir u sê? Hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Meneer, ons het almal teruggekom om u slawe te wees, ons én ons broer in wie se sak die beker gekry is.”

17. “Nee,” sê Josef. “Net die man wat die beker gesteel het, sal my slaaf wees. Die ander kan maar teruggaan na julle pa toe.”

18. Juda kom toe vorentoe en sê: “Meneer, laat ek asseblief iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie. Ek weet dat u dieselfde gesag het as Farao.

19. “Meneer, u het ons gevra of ons ’n pa of ’n broer het.

20. Ons het gesê: ‘Ja, ons het ’n pa, ’n ou man. In sy ouderdom is ook nog ’n kind, sy jongste seun, gebore. Sy broer is dood. Hy alleen is oor van sy ma se kinders en sy pa het hom baie lief.’

21. Toe sê u: ‘Bring hom hierheen sodat ek hom kan sien.’

22. Maar ons het vir u gesê: ‘Meneer, die seun kan nie weggaan van sy pa nie, want dan sal sy pa sterf.’

23. Maar u het gesê: ‘As julle jongste broer nie saamkom nie, mag julle my nie weer sien nie.’

24. Ons het toe na ons pa teruggegaan en hom vertel wat u gesê het.

25. Toe hy later vir ons sê: ‘Gaan terug en koop weer vir ons ’n bietjie kos,’

26. het ons geantwoord: ‘Ons kan nie gaan nie tensy Pa toelaat dat ons jongste broer ook saamgaan. Ons sal nie toegelaat word om die man weer te sien as ons jongste broer nie by ons is nie.’

27. Toe sê ons pa vir ons: ‘Julle weet dat my vrou twee seuns gehad het

28. en dat een van hulle weggegaan het en nie weer teruggekom het nie. Ek dink roofdiere het hom verskeur, want ek het hom nog nie weer gesien nie.

29. As julle nou sy broer ook van my wegneem en hy kom iets oor, sal julle my in my ouderdom met smart graf toe laat gaan.’

30. “Nou, Meneer, ek durf nie sonder die seun na my pa toe teruggaan nie. Ons pa is baie lief vir die seun.

31. As hy sien dat die seun nie by ons is nie, sal ons pa sterf. Ons sal veroorsaak dat hy in sy ouderdom met smart in die graf gaan.

Genesis 44